Lekker pasta!

Vir die van julle wie se mans nie van spinasie hou nie, hier is ’n wonderlike resep waaroor enigiemand  wie se pallet meer gevorderd as ’n 3jarige is sal hou!

Bestanddele: (4 porsies)

1k witwyn

1 blikke tamatie en ui mengsel

1t Suiker

 sout en peper na smaak

1 bakkie bevrore spinasie (ek verkies die gevriesde spinasie met fetakaas)

650g hoender filette sonder die vel

1 pak spaghetti pasta

Mozzarella kaas

Metode:

Laat die wyn en tamatie mengsel kook vir ± 1uur tot halveer in volume en verdik het. Voeg sout, suiker en peper by.  As jy soet  witwyn soos ’n Muscadel gebruik help dit want dit moet ’n soeterige sous wees. Maak die spinasie gaar in die mikrogolf en roer by die tamatie mengsel in.

Voorverhit die oond tot 160°C. Sny die hoender filette in kleiner repe en braai in ’n pan tot gaar. Spuit ’n casserole bak met kook sproei, smeer die bodem met ½ van die  die spinasie mengsel. Rangskik die hoender filette langs mekaar in die lengte af en voeg die res van die spinasie mengsel by. Sny nou lekker dik snye mozzarella en rangskik in die bak nes jy met die hoender gedoen het. Bak in die oond vir so 30min. of totdat die kaas behoorlik gesmelt het. Kook die spaghetti terselfdertyd tot al Dante.

Sit voor op pasta.

Ns.: Ek gebruik die tamatie/spinasie mengsel ook wanneer ek lasagna maak. Nadat die tamatie sous geprut het en die spinasie in geroer is, voeg ek die gaar maalvleis daarby, meng en  gebruik dit saam witsous vir my lasagna. Weereens, ’n wonderlike manier om spinasie by ’n dis in te werk en die gesin is mal daaroor!

Smaaklike ete!