Baguette

Dis ’n brood wat ek begin eet het in Engeland. Ek het baie oggende een gaan koop by Tesco en ham en kaas op dit gesit vir ontbyt. Noudat ek terug in Afrika is, is dit nie die norm om lekker baguettes in die supermark te koop nie en min resepte proe naby aan die regte ding. Of dit moet gestoom word of die brood is baie swaar en smaakloos nadat dit gebak is. Die resep is die beste wat ek al probeer het sonder die luuksheid van ’n professionele oond of Franse meel.

 Dit vat lank ja en baie kere wanneer ’n brood soveel keer moet reis en geknie moet word sien meeste vrouens nie kans nie. Die lekker ding is die brood doen meeste van die werk so jy kan jou huishoudelike takies maklik om dit inwerk. Ek was baie in my skik nadat ek die brood gebak het en het dit dadelik met botter en konfyt geëet en dit was wonderlik!

Bestanddele:

Lewer 2 groot brode
330ml louwarm water
5g of halwe pakkie kitsgis
5ml sout
10m heuning
15ml olyfolie
500g koekmeel

Metode:

Meng die gis en louwarm water tot heeltemal opgelos. Voeg die sout, heuning en olie by en klits.
Voeg die meel bietjie vir bietjie by en klits. Wanneer die beslag te taai word gebruik ’n hout lepel. Voer ’n mengbak met olie uit en plaas die deeg daarin, bedek met plastiek en los in ’n warm plek om te reis vir 30min. Knie dan af. (Hy moet drie keer reis en drie keer af geknie word.)
Verdeel de beslag in twee en rol uit met ’n koekroller. Vou die punte na die middel totdat die deeg weer ’n bal vorm. Rol nou in ’n lang ovaal (sowat 40cm) en plaas in ’n pan wat gespuit is en bestrooi is met meel.  Sny vier kepe met ’n skerp mes skuins oor die deeg en sif ’n bietjie mel daaroor. Sorg dat beide deeg rolle vêr genoeg van mekaar is omrede hul weer gaan verdubbel. Laat die twee deeg rolle in ’n warm plek vir 40minute staan tot verdubbel het in grootte. *Die brode gaan nie rys in die oond nie a.g.v. die hoë temperatuur en die gis, so maak seker hy is groot genoeg na jou smaak voordat jy hom in die oond sit.
Bak in die voorverhitte oond vir 20minute teen 220°C vir ’n goudbruin smullekker tuisgemaakte baguette!