My tannie se nat-sjokolade brownies

My tannie het hierdie as deel van ’n familie resepte bundel vir my geskenk as ’n persent vir my kombuistee. Ek’t  gisteraand besluit om dit te probeer aangesien ek lus was vir iets soets na ’n lang dag. Wat hulle ideaal maak is dat hulle baie vogtig is en kan dus as ’n koekie of nagereg bedien word.

Bestanddele:

1k botter of margarien

1k witsuiker

1k klam bruinsuiker

6 opgehoopte eetlepels kakao

1t sout

1t vanielje- of karamelgeursel

4 eiers

1k koekmeel

Versiersuiker om bo-oor te sif

Metode: 

Smelt die botter in die mikrogolf. Voeg die gesmelte botter, suiker en eiers in ’n mengbak en klits. Voeg die res van die bestanddele by en meng goed. Smeer ’n middelslag reghoekige oondpan of vierkantige oekpan met botter en bestrooi met meel. Gooi die beslag daarin en maak die oppervlak egalig.  Bak die brownies vir 15-25 minute in die oond teen 180°C. Laat afkoel en sny dan in blokkies. Raak spoggerig en sif ’n bietjie versiersuiker oor voordat jy dit voorsit.