Lae GI Peer-en-kaneelkolwyntjies

Maak 12 reuse kolwyntjies

Hierdie lae GI resep het aanvanklik 5klein appels bevat i.p.v. pere. My man is mal oor pere so ek het die appels met 3 groot pere vervang. Hierdie kolwyntjies is wonderlik vir reg deur die jaar en veral in die winter, wanneer dit te koud is om muesli en jogurt vir ontbyt te eet🙂

Bestanddele:

4 ekstra groot eiers
1k suiker
30ml canola-olie
10ml vanieljegeursel
2k vanieljegeur laevet jogurt
1k vetvrye melk (kan ook volroom gebruik)
2k koekmeel
20ml bakpoeier
10ml koeksoda
15ml fyn kaneel
2.5ml sout
2k hawersemels (oat bran)
1k volkoring Pronutro, ‘original’ of ‘apple bake’
3 groot pere, fyn gekap

Metode:

Klits die eier tot donsig en voeg dan die suiker by. Voeg die res van die vloeistowwe by en meng goed. Meng al die droë bestanddele in ’n aparte bak. Voeg dan by die nat mengsel, klits goed en voeg die gekapte pere by. Voorverhit die oond tot 220°C. Spuit twee reuse kolwyntjie panne met kossproei en vul met beslag. Sit die kolwyntjies in die oond, verlaag die hitte tot 190°C en bak vir 25min. Wag totdat jou baksel afgekoel het voordat jy die kolwyntjies uitlig. Hulle is wonderlik met kaas en konfyt en vries ook baie goed. Lekker bak!